Sunday Times Books LIVE Community Sign up

Login to Sunday Times Books LIVE

Forgotten password?

Forgotten your password?

Enter your username or email address and we'll send you reset instructions

Sunday Times Books LIVE

Naledi Books

@ Sunday Times Books LIVE

Sulamiet: Lina Spies voel byna net so opgewonde oor tiende digbundel as oor 1971-debuut

Lina Spies

 
SulamietDie bekroonde skrywer Lina Spies se tiende digbundel, Sulamiet, het in 2016 by Naledi verskyn en is tydens die RSG Kunstefees bekend gestel.

Jean Oosthuizen (LitNet) en Andries Visagie (Versindaba) het kort na die vrystelling met die skrywer gesels oor haar jongste bundel.

Spies vertel aan Oosthuizen: “Die publikasie van my tiende digbundel het my byna dieselfde opwinding besorg wat met die verskyning van my debuut in 1971 gepaard gegaan het.”

Lees die artikel:

Jou tiende digbundel, Sulamiet, het pas by Naledi verskyn. Ek besef dit is moeilik om jou eie werk te beoordeel, maar hoe voel jy oor jou nommer tien en jou nuwe uitgewer?

Die publikasie van my tiende digbundel het my byna dieselfde opwinding besorg wat met die verskyning van my debuut in 1971 gepaard gegaan het. My eersteling is voorafgegaan deur ’n dekade waarin ek met onwrikbare geloof in die oordeel van my mentor, DJ Opperman, my eerste gedigte geskryf het totdat hy my debuut, Digby Vergenoeg, as ’n ryp bundel kon aanbeveel vir publikasie.

By Opperman het ek die geduld geleer om te wag totdat ek in die gedigte wat dit my gegee word om te skryf ’n bundel “herken” wat gereed is vir blootstelling aan die publieke oog.

Met Visagie gesels die skrywer veral oor die Bybelse simboliek en temas in Sulamiet.

Lees die artikel:

Die Sulammitiese meisie is die prominentste van die drie sprekers; die meisie, die man en die dogters van Jerusalem. Sy lui die lied in en sluit dit af en haar stem is heeltyd dominant. Sy bely haar liefde, verlange en soeke na haar geliefde, maar sy doen ook navraag na waar hy is, waarsku die dogters van Jerusalem om die liefde nie ontydig te wek nie, maar sy eie gang te laat gaan en sy verdedig haarself:

“Ek is bruin gebrand, maar lieflik, o dogters van Jerusalem… Moenie na my kyk omdat ek so bruinerig is, omdat die son my verbrand het nie: die seuns van my moeder was toornig op my; hulle het my aangestel as oppasser van die wingerde; my eie wingerd het ek nie opgepas nie” (Hgl. 1. 5 – 6). In die jongste Nederlandse Bybelvertaling van 2004 word “bruin verbrand” met “donker” vertaal en om dié rede word op haar “neergesien” waar in die Afrikaanse vertaling sy aangekyk word in die meer letterlike sin: “Meisjes van Jeruzalem, donker ben ik, en mooi…Kijk niet op mij neer omdat ik donker ben, omdat de zon mij heeft gebrand. Mijn moeders zonen waren hard voor mij: ik moes hun wijngaarden bewaken. Mijn eigen wijngaard heb ik niet bewaakt.”

Nie net minagting van die dogters van Jerusalem is haar deel nie; sy word selfs aangerand op haar soektog in die stad na haar beminde:

“Die wagte wat in die stad rondgaan, het my aangetref; hulle het my geslaan, my gewond; die wagte by die mure het my mantel van my afgeneem” (Hgl. 5:7). Die veel poëtieser Nederlandse vertaling lui: “De wachters vonden mij op hun ronde door de stad. Zij sloegen mij, zij verwonden mij, zij rukten mij de sluier af, de wachters van de muren.”

Boekbesonderhede

Ons kom van vêr deur Michael le Cordeur en Wannie Carstens: Gesprekke oor bruinwees en Afrikaans

Ons kom van vêrOns kom van vêr: Bydraes oor bruin Afrikaanssprekendes se rol in die ontwikkeling van Afrikaans saamgestel deur Michael le Cordeur en Wannie Carstens is nou beskikbaar by Naledi:

Die gesprek oor Afrikaans en die bruin mense wat die skrywers in hierdie boek aanroer, is tydig in die opsig dat ná al die ambivalensie oor die Afrikaans van ons hart en die onverkwiklike manier waarop ons in hierdie taal verdruk en misken is, ons ons vry­heid gekry het – wat ook verantwoordelikheid meebring om minstens onder mekaar klaarheid te vind oor wat nou vorentoe met ons taal moet gebeur.

Dit is onomstootlik so dat ons as bruin mense die aard van die Khoisan en swart African met ons saamdra. Dit is net so waar dat ons ook Europees in die Anglosaksiese sin van die woord is. Ons is tewens ook trots bewus van ons Asiatiese herkoms. Afrikaans is ook die taal van ons slawevoorouers. Ons moet al hierdie tradisies vir onsself toe-eien.

Madiba se waardering vir bruin mense spruit veral uit die sienswyse dat ons kern is tot die wording van die Suid-Afrikaanse volk en die sleutel hou tot die strewe na ’n nierassige volk: divers in ons eenheid. Ons moet in die proses van eenheid uit diversiteit onthou dat die jongste Afrikataal op ons tonge klank gekry het. Madiba se versoek – in Afrikaans – was ’n oproep tot ’n afskeid van selfbewustheid, ’n oproep om ons eiegoed te ken en om ons unieke rol in die nierassige toekomstige Suid-Afrika in te neem.

Afrikaans is nie net die taal van apartheid nie; Afrikaans is ook die taal van die struggle en versoening. Dit is ook ’n aanduiding dat Afrikaans deel is van ons swart- en bruinwees, maar dat dit ons ook vasbind aan ons wit taalgenote. Met hierdie boek slaag die skrywers daarin om veral bruin Afrikaanssprekendes se trots in hul taal te laat herleef! Dit is geen geringe prestasie nie.

– Dr Franklin Sonn

Oor die samestellers

Dr Michael le Cordeur is die voorsitter van die Afrikaanse Taalraad (ATR), en voorsitter van die B.Ed-programkomitee en dosent in Afrikaansonderwys aan die Universiteit Stellenbosch. Hy is die skrywer van etlike handboeke en Wellingtonse Klopse: 100 jaar se onvertelde stories (2013) asook 16 Junie 1976, 35 jaar later (2012). Sy navorsing vir die PhD-graad aan die US handel oor die verbetering van lees met behulp van die inligtingstegnologie. Hy doen ook navorsing en publiseer gereeld oor temas soos taalbeleid, moedertaalonderwys en die media in die skoolkurrikulum (MEd). Hy het ook die Senior Bestuursprogram aan die Nagraadse Bestuurskool van Stellenbosch voltooi. Hy is voorsitter van die trusteeraad van Breytenbach Sentrum op Wellington, onder-voorsitter van die Afrikaanse Taalmuseum en die Media24 Rachels Angels Bemagtigingstrust. Hy is deur die SA Akademie bekroon met die Elisabeth Steijn-medalje vir sy bydrae tot die onderwys.

Prof WAM (Wannie) Carstens is sedert Julie 1991 verbonde aan die Noordwes-Universiteit, (Potchefstroomkampus) waar hy tot einde 2016 die direkteur van die Skool vir Tale was. Hy is ten nouste betrokke by aktiwiteite wat Afrikaans raak (op beide akademiese en organisatoriese vlak), onder andere as stigterslid en eerste voorsitter van die Afrikaanse Taalraad (ATR). Hy was ook voorsitter van die Nasionale Taalliggaam vir Afrikaans (NTLA), van die Raad van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns en van die Raad van die Afrikaanse Taalmuseum. Hy dien reeds lank as direksielid van die Buro van die WAT en is ’n lid van die Raad van die Universiteit Stellenbosch. As gegradeerde NNS-navorser is hy die outeur van twee akade­miese boeke as alleenouteur en van twee as mede-outeur. Verder is hy ook mede­­redakteur van Kontemporêre Afrikaanse Taalkunde (2014, 2017), ’n handboek oor die moderne Afrikaanse taalkunde. ’n Tweedelige boekereeks oor Die storie van Afrikaans (saam met Edith Raidt) word onderskeidelik in 2017 en 2018 gepubliseer. Hy is medeverantwoordelik vir die totstandkoming van die Ernst van Heerden-versameling van Afrikaanse poësie in die Poëziecentrum in Gent, België en hy was ook betrokke by die sluit van verskeie uitruil- en samewerkingsooreenkomste met universiteite in die Lae Lande. Hy is in 2014 deur die ATR bekroon met ’n Kokertoekenning vir sy werk vir die Bevordering van Afrikaans.

Boekbesonderhede

Michael le Cordeur se biografie met dank aan LitNet

Koedoe deur Paul Avenant: ’n Verhaal van dood, liefde, en die grootheid en prag van die natuur

KoedoeKoedoe: Die verhaal van Koedoe Kotze deur Paul Avenant is nou beskikbaar by Naledi:

Die dood van Gerrit Kotze se vrou en kinders as gevolg van ’n koedoe-ongeluk het sy hele lewe verander.

Sy obsessie en soeke na die legendariese koedoe, Ou Grote, lei hom terug na sy verlore liefde en die moontlikheid van die bestaan van watermense.

Die leser word ingetrek in die betowering van die natuurskoon in die Kamdeboo met Toorberg wat waghou.

Met die skrywer se kennis van die mens en die natuur word die leser deel van ’n storie wat hom die emosie
van dood en liefde laat beleef en ook die grootheid en prag van die natuur.

Vir dié wat ’n liefde en belangstelling het vir die natuur en romanse sal hierdie boek die leser meevoer.

Oor die outeur

Paul Lodewyk Avenant is op 29 Mei 1960 in Namibië gebore. Hy groei op en matrikuleer in die Strand. Paul toon van jongs af belangstelling in skryf en teater. Hy is ’n gekwalifiseerde maatskaplike werker en is reeds die afgelope 24 jaar in die Karoo woonagtig waar hy en sy vrou ’n familiebesigheid bedryf. Hy hou hom in sy vryetyd besig met sy belangstellings naamlik skryf, fotografie en jag en beskou homself as ’n ervare jagter en natuurliefhebber met veral kennis van die Karoo wat juis die agtergrond vorm tot hierdie boek.

Die skrywer het reeds ’n verskeidenheid verhoogstukke geskryf waarvan sommige deur skole en kerke opgevoer is. Verder hy het ook deelgeneem aan die Sanlam Radio Drama Kompetisie en ook die KKNK se teksontwikkeling projek. Hy het verskeie kortverhale en gedigte geskryf waarvan een gedig in ’n bundel opgeneem is en is ook betrokke by die Karoo Skrywersfees te Cradock. Die skrywer het reeds self ’n geestelike dagboek vir boere gepubliseer naamlik David se plaas preke.

Boekbesonderhede

Belinda Bras-Nel deel haar ervaringe met afgestorwe siele in my pad met die doodsengel

my pad met die doodsengelmy pad met die doodsengel: Is dood wérklik die einde van jou wêreld? deur Belinda Bras-Nel is nou beskikbaar by Naledi:

In hierdie boek deel ek my eie pad wat ek met die Doodsengel gestap het en hoe my pa se afsterwe my lewe dramaties verander het. Nianell en Riana Scheepers is maar ’n paar mense wat ook in hierdie boek hul eie ervaringe met afgestorwe siele kom deel.

Maar sekerlik die belangrikste deel van hierdie boek, is om ons vrese vir die dood aan te spreek en die konsep vir onsself te herdefinieer, sodat ons ook nie ons eie afsterwe sal vrees nie. Ek kyk na die potensiaal wat ontstaan om te groei en te ontluik in die unieke jy, wanneer die dood jou lewe kom omver gooi.

Elke kliënt wat by my kantoor instap, dra letsels van die dood van ’n geliefde. Daar is dikwels so baie verwyte, onafgehandelde konflikte of gesprekke wat nooit gevoer is nie.

Ek wil vir mense ruimte bied om self te besluit of hulle wel hul geliefdes wil ervaar of nie en dus vrede te maak met die konsep van dood en wie ons is na die dood.

Oor die outeur

Belinda Bras-Nel is ’n erkende tussenganger met die dood, inspirerende spreker en skrywer. Sy verskyn gereeld in koerante, tydskrifte en die media. Sy leef in die Angel House Sanctuary saam met haar geliefde man, twee kinders, drie wolwe en al haar aanneemkatte en -honde.

Boekbesonderhede

Multivers deur Hennie Smith: ’n Bundel wat die grense van dig-denke roer en verbreed

MultiversMultivers deur Hennie Smith is nou beskikbaar by Naledi:

Uit stof, ster, planete word daar poësie gemaak. Die digter verken die geskape Univers met fyn aanvoeling en vernuf. Hier is ’n poëtiese fisikus op sy allerbeste.

Smith se aanleg vir wiskunde en wetenskap het hom tot ’n doktorsgraad in fisika geneem en ’n suksesvolle navorsingsloopbaan in Suid-Afrika en Frankryk.

Sy aanvoeling vir poësie het hom egter deurgaans besiel en hy het telkens woorde gevind om emosiebelaaide insigte in verse neer te pen.

Die fisika en kosmologie word vir hom ’n teleskoop om van die einders van die kosmos in te kyk op die binneruimte van menslike emosie.

Hier is van die kragtigste gedigte in Afrikaans wat die leser as ’n gedagtegolf tref en met nuwe denke oor die poësie laat.

Die intense gedigte oor die roering en spanning tussen die manlike en vroulike het ook ’n kosmiese inslag wanneer hy soos Goethe in sy Faust ervaar dat die ewig vroulike hom motiveer en die volheid van die syn laat beleef.

’n Aantal verse reik uit na die grense van religie en filosofie.

Hier is ’n bundel wat die grense van dig-denke roer en verbreed.

Oor die outeur

Hennie Smith is ’n boorling van Bethal op die Hoëveld. Hy behaal ’n DSc in fisika aan die Universiteit van Pretoria en vul dit later aan met studies in ekonomie, filosofie en staatsleer aan UNISA. Sy navorsingsloopbaan van twintig jaar by die WNNR is onderbreek deur periodes van navorsing by die Centre Nationale de la Recherche Scientifique in Orsay, Parys, en later by die Centre d’Étude Nucléaire in Grenoble in die Franse Alpe.

Boekbesonderhede

’n Tienerangs stream-of-consciousness storie: Was ek maar ’n lady deur Sheugnet

Was ek maar ’n ladyWas ek maar ’n lady deur Sheugnet is nou beskikbaar op Naledi se rakke:

Was ek maar ’n lady is ’n tienerangs stream-of-consciousness storie.

Hierdie boek sal geen leser neersit nie! Tieners. Ma’s, Oumas! Lanklaas is daar soveel aardsheid, reguit-praat, moed en guts op elke bladsy van ’n boek neergepen. Maar watter manjifieke storie. Die karakter van Jackie gaan jou voete onder jou uitslaan. Die media gaan weghardloop met die storie!
 

* * * * *

 
A non-stop reading experience. Teenagers. Moms. Yes. Even Grannies! A while since we have seen so much real and straight talk. Guts on every page. A magnificent story. Jackie will sweep you off your feet. Intensive promotions in media!
 
Ek is vyftien. Te jonk om te stem, maar oud genoeg om ’n aborsie te kry. Ek wil nie een van die twee doen nie. Parlementslede lieg almal soos Solly’s Swop Shop op die Bluff. Hulle het vir Ma belowe dat die Welfare ons sal help, maar dit was alles spookasem.

En die aborsie is gewone moord. Lucky sê ook so. Ek twyfel baie sterk of hy weet wat ’n aborsie is, want hy kan nie eens die tyd lees nie. ’n Meisie in my laaste skool het een gehad en sy het my vertel dat dit iets verskrikliks was. Pyne uit die hel. Byna so baie bloed soos Bloedrivier en binne-in die gemors dryf ’n miniatuurmensie. Verdrink.

Oor die outeur

Sheugnet het reeds sewe boeke geskryf. Wenner van die Amstel Opvoering en twee RSG dramas, Sheugnet se boek Hitler sterf in die Vrystaat is die voorgeskrewe teks in Vrystaat skole. Dit was ook die eerste drama vir blindes.

Boekbesonderhede

“Sy slaag daarin om jou die prentjie te laat sien wat sy skets” – Yolanda Wessels oor Koms van die biblioteekbus deur Keina Swart

Koms van die biblioteekbus en ander storiesYolanda Wessels het onlangs ’n resensie geskryf oor Koms van die biblioteekbus en ander stories, ’n versameling essays, kort­verhale en rubrieke deur Keina Swart.

In haar jongste bundel skryf Swart oor die wêreld wat was en die wêreld wat is. Die bundel bevat ook ‘n storie oor die krieketheld AB de Villiers, wat in Mei ‘n foto daarvan getwiet het:

Wessels skryf in die resensie: “Haar pragtige, raakvatbeskrywings en -idiome laat mens telkens giggel – dis onvermydelik, want sy slaag daarin om jou die prentjie te laat sién wat sy skets.”

Lees die resensie:

Haar verhale herinner mens aan die waarde(loosheid) van geld en die noodsaaklikheid van liefde, dat liefde die hoofelement is om werklik geluk te kan koop. Sy laat jou toe om die mamma te word wat benoud toekyk hoe haar dogtertjie haar balleteksamen aflê. Jy word die klein kindjie wat blinkoog wag vir Kersvader om die geskenke te bring, al wéét jy wat die realiteit is. Die geleentheid word geskep dat jy sáám met Kersvader en sy rendiere myle ver vlieg en verken en drome droom. Jy ís die dogtertjie wat aan jou ouma se lippe hang, “My ouma is nie noodwendig in ‘n nartjie, in kaneel of anys nie,” skryf Keina. Dié beskrywing laat mens rêrig aan jou ouma dink! Om aan ‘n ouma te dink, sluit altyd reuke in en dié boek het ‘n mengelmoes van emosies en reuke. Keina laat jou vóél of jý die handvol knope vashou, of jý die viool bespeel, of jý proe aan die roosblaartjieskonfyt, of jý die tuinrose inadem.

Naomi Meyer het vroeër vanjaar met Swart gesels oor haar bundel en haar liefde vir die biblioteekbus. In die foto-onderhoud deel die skrywer ‘n paar kiekies wat as inspirasie vir haar stories gedien het.

Lees die artikel:

Waar het jy grootgeword en hoe gereeld het die biblioteekbus sy opwagting gemaak?

Ek het in die Limpopo-vallei naby die Pont Drift-grenspos tussen Suid-Afrika en Botswana grootgeword. Daar waar die Mapungubwe Nasionale Park vandag is. My pa het met katoen en tabak geboer en my ma het ’n plaaswinkel bedryf – een van daardie regte outydse winkels wat alles verkoop het van meel, trekkerbande en diesel tot atjar, niekerbôls, oorbelle, fopspene, rolle materiaal, pruike en selfs ’n kitaar of twee.

In die een hoek het Anna Mashete op haar swart naaimasjien klere vir ons vier kinders gestik. In die ander hoek was die kas met die biblioteekboeke. Die regering se mobiele biblioteek het so een maal per maand sy rondtes gedoen en nuwe boeke gebring, wat die omliggende mense dan by my ma se winkel kom uitneem het. Dit was die hoogtepunt van my lewe — die koms van die biblioteekbus.

Boekbesonderhede

Kom luister na die eksklusiewe bekendstelling van Lina Spies se 10de digbundel Sulamiet op RSG

Lina Spies

 
SulamietNaledi nooi jou graag na die bekendstelling van Lina Spies se tiende digbundel, Sulamiet.

Die merkwaardige geleentheid word eksklusief uitgesaai op Sondag, 13 November tydens die 2016 RSG Kunstefees en begin om 21:10, net na die nuus.

Daniel Hugo is die programleier en Margot Luyt sal voorlees uit die bundel. Sulamiet is ’n bundel oor medemenslikheid, liefde, die wisseling van seisoene, die skoonheid van die natuur en die kunste in ’n land en ’n wêreld van geweld.

Vir meer besonderhede, luister gerus na die potgooi:

 
Moenie dit misloop nie!

Besonderhede

  • Datum: Sondag, 13 November 2016
  • Tyd: 21:10
  • Plek: RSG
  • Voorleser: Margot Luyt
  • Programleier: Daniel Hugo

Boekbesonderhede

’n Bundel oor medemenslikheid, liefde, die natuur en geloof – Sulamiet deur Lina Spies

SulamietLina Spies se jongste digbundel, Sulamiet, is nou beskikbaar by Naledi:

Sulamiet is ’n bundel oor medemenslikheid, liefde, die wisseling van seisoene, die skoonheid van die natuur en die kunste in ’n land en ’n wêreld van geweld. Die titel Sulamiet verwys na die vroulike spreker in die Bybelboek Hooglied waarin die verlore tuin van Eden ná die sondeval deur die liefde herskep word. Die verse in die bundel handel oor die liefde in vele vorme, die belewenis van die religieuse en die skoonheid van die natuur en die kunste waaraan altyd ’n tekort verbonde bly weens menslike ontoereikenheid. Binne die perspek­tief van die herwonne paradys staan Jesus nie sentraal as die Gekruisigde en die Wonderwerker nie, maar as die Joodse rabbi wat die koms van die Koninkryk reeds op aarde verkondig het. God is transendent: die hiëroglief, die ontwykende aan wie ons verbonde is in ons woordeloosheid en deur die musiek.

Oor die outeur

Lina Spies is ’n digter en ’n letterkundige. Haar liefde vir die poësie is by haar deur haar vader gewek en aan die Universiteit Stellenbosch het D. J. Opperman haar mentor geword onder wie se leiding sy ook haar M.A.-tesis oor Elisabeth Eybers geskryf het. Sy studeer verder aan die Vrije Universiteit (Amsterdam) in die Nederlandse Taal- en Letterkunde en promoveer in 1982 aan die Universiteit van Pretoria met ’n proefskrif oor D. J. Opperman by A. P. Grové. By die Universiteit Stellenbosch was sy professor vanaf 1987 tot en met haar uittrede in 1999.

Boekbesonderhede

Rus in vrede, Jaco Botha (1972 – 2016)

Jaco Botha, Dominique Botha, Kirby van der Merwe en Fourie Botha

 
Die avonture van Lulu LeruluDie geliefde Afrikaanse skrywer Jaco Botha is op 18 Oktober 2016 op die ouderdom van 44 oorlede.

Botha se jongste kinderboek, Die avonture van Lulu Lerulu, het verlede jaar by Naledi verskyn. Dit is met groot hartseer dat ons afskeid neem van dié besonderse skrywer.

Gerard Rudolf het die dag na sy vriend se dood ’n storie daaroor op LitNet geplaas:

Ek maak my oë toe. Daar staan Jack, kaalvoet in daardie vroegsomermiddag in ’n straat in Melville. Hy dra ’n T-hemp, jeans. Sy baard is wild en dit lyk asof hy self sy hare met ’n skaapskêr bygekom het. Hy rook ’n sigaret en praat. Jack kon praat. Ek skiet ’n portret van hom met my selfoon terwyl hy hard aan sy sigaret trek – die laaste foto wat ek van hom geneem het. Hy was nie lekker nie, asof iets uit hom geruk was. Hy het ’n sagte siel gehad, ’n groot hart, ’n gebroke hart.

Ook skrywer Dana Snyman het ’n afskeidsbrief aan Botha op sy Facebook-blad geplaas:

 

Etienne van Heerden skryf: “Van sy generasie skrywers was Jaco Botha die voorste stilis.”

Vir my begin skryftalent met ‘n manier van kyk na die wêreld. Hoedat die talentvolle skrywer dinge sien wat ander mense met meer konvensionele blikhoeke nie sien nie. Die talentvolle skrywer kyk anders, en vertaal wat hy sien na woorde, en skep sodoende ‘n eie, kenmerkende wêreld. Só dat mens kan sê: Daardie skrywer het ‘n eie stem. In sy verhale kom ‘n wêreld tot stand waaroor hy sy naam kan skrywe.

In Jaco se geval is dit nie soseer ‘n eksentrieke blik nie. Dit sou veels te gesellig wees om sy blik op die lewe só te beskryf. Dit was eerder ‘n seer kyk, en meer dikwels ‘n desperate siening van die mens in sy gestrooptheid.

 
Rus in vrede, Jaco Botha.

Lees ook:

Boekbesonderhede

Foto met dank aan Netwerk24